Friday, 03 August 2007

Genoeg is Genoeg met Tshwane knoeiery

Die VF Plus vergader vanoggend met senior advokate in Pretoria om voor te berei op ‘n regsproses wat die onsekerheid oor die naam van Pretoria vir eens en vir altyd tot ‘n bevredigende beslissing moet bring.

Ons het nou genoeg gehad van die Tshwane Metroraad se jarelange geknoei met die naam van Pretoria.

Nuusberigte in Beeld vandag lui dat die Tshwane Metroraad nou ‘n interne brief sirkuleer waarin die voorneme bekend gemaak word om sonder meer alle naamborde op munisipale, provinsiale en nasionale paaie vanaf Pretoria na Tshwane te verander.

Dit is totaal ongehoord. Naamborde kan alleenlik verander word om amptelike plekname soos goedgekeur en geregistreer in die Nasionale Pleknaam-register te reflekteer. Die Minister van Kuns en Kultuur het nog nie die Metroraad se versoek om Tshwane se naam as pleknaam te registreer goedgekeur nie en die Premier van Gauteng het boonop aanbeveel dat die aansoek teruggetrek behoort te word.

Dit is nou duidelik dat die Metroraad besef het dat hy hopeloos verkeerd opgetree het deur twee jaar gelede teen wil en dank voort te gaan met die aansoek om die naam Tshwane as pleknaam te registreer. Wat hulle nou doen is om hulle fout reg te knoei deur met naamborde en advertensies ‘n skynwerklikheid te skep ten opsigte van ‘n administratiewe proses wat onvoltooid en onvoldoende was. Ons gaan nie toelaat dat die Metroraad ‘n kosbare kultuur-erfenis en die trotse geskiedenis wat dit verteenwoordig met sy onbeholpe administratiewe onvermoë uitwis nie.

Afgesien van die registrasie van die naam Pretoria op die geografiese nameregister, kom die Pretoria naam ook by die Aktekantoor en Landmeter-generaal se dorpsregisters voor in 17 geregistreerde dorpsname waaronder Pretoria-Noord, Pretoria-Wes, Pretoria-Tuine en Pretoria Nywerheidsgebied.

Friday, 27 July 2007

Slaan eerste!

Baie dinge het my al verras in die politiek. Maar die nuus dat die DA se parlementere leidster Sandra Botha nou die slagspreuk "slaan eerste" as rassisties uitsonder, oortref alles.
Stommiteite soos die DA se jongste veroordeling van die VF Plus se veldtog teen kwotas op Kovsiekoshuise kos partye baie duur. Ek dink die DA gaan die politieke instinkte van sy voormalige leier Tony Leon mis.

Wednesday, 18 July 2007

Absurde denke oor regstelaksie

Ek was gisteraand verstom om oor die nuus te hoor dat Mbeki se "dinkskrum" reken wittes is nou beter daaraan toe danksy regstellende aksie. Volgens die taakgroep is wit mans en vroue die grootste begunstigdes onder regstellende aksie.

Ek dink hierdie een sal ook in die geskiedenis onthou word as een van die absurditeite uit die Mbeki-era. Ander soortgelyke foutballe was Mbeki se standpunte oor Vigs en Zimbabwe.

Die VF Plus en Solidariteit het reeds by verskeie geleenthede kommer uitgespreek oor die betroubaarheid van die syfers soos weerspieël in die verslag van die Gelyke Indiensnemingskommissie - dis nou die verslag wat as basis gebruik word vir die taakgroep se gevolgtrekkings.

Die verslag se vernaamste fokus is die samestelling van die topbestuursvlakke van maatskappye wat in die betrokke jaar gelyke indiensnemingsverslae ingedien het. Dit verteenwoordig nie eers 5% van die totale arbeidsmark nie. Op die laer posvlakke is wit Suid-Afrikaners byna sonder uitsondering onderverteenwoordig.

Dit is juis wit werksoekers op die intreevlakke wat die druk van regstellende aksie die ergste voel. Armoede onder wit Suid-Afrikaners neem ook die vinnigste toe. Volgens sekere berekeninge tel soveel as 400 000 wit gesinne onder die armstes in die land. Afgesien het soveel as 1 miljoen wit Suid-Afrikaners reeds die land verlaat, meestal weens regstellende aksie en misdaad.

Aartsbiskop Desmond Tutu het die naweek tydens ‘n byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke kritiek uitgespreek op die feit dat regstellende aksie mense uit die land uit dryf.

Sunday, 15 July 2007

So hanteer Ierland plekname


Tydens 'n onlangse besoek aan Ierland was ek verras om te sien hoe die Iere (en nou ook die Skotte en Walliesers) daarin slaag om erkenning aan albei die plekname (in die Iers-Galliese taal, sowel as in Engels) te gee.
Miskien kan Pallo Jordan Ierland besoek en 'n paar lesse kry oor hoe om 'n verdeelde gemeenskap met 'n volwasse hantering van plekname te heel.

Saturday, 14 July 2007

Regstel-aksie is dood, sê Erwin

Berig deur Pieter Malan uit Beeld 12 Julie 2007

Londen. – Mnr. Alec Erwin, minister van openbare ondernemings, sê regstellende aksie in Suid-Afrika is in vele opsigte dood.
Hy het hier gesê dit word in die praktyk nie meer toegepas nie omdat daar so ’n vaardigheidstekort in die land is.
Erwin het gister, tydens ’n vraag-en-antwoordsessie met lede van die Suid-Afrikaanse Besigheidsklub in Londen, die land se regstellende aksie-beleid verdedig en gesê Suid-Afrika sou ’n groter tekort na vaardighede gehad het as dit nie daarvoor was nie. “Die hoeveelheid vaardighede wat Suid-Afrika nodig het, kon onmoontlik deur wit Suid-Afrikaners alleen verskaf word.”
Op ’n vraag hoe belangrik die beleid van regstellende aksie steeds vir die ANC-regering is, het Erwin gesê regstellende aksie is in baie opsigte dood “nie wat ’n beleid betref nie, maar as ’n vereiste” (tydens werksaansoeke). Hy het mediese aanstellings in die Wes-Kaap as ’n voorbeeld genoem en gesê die meeste dokters wat in dié provinsie aangestel word, is wit.
Intussen het dit aan die lig gekom dat mnr. Tony Blair, die voormalige Britse premier, sy ongemaklikheid met die ANC-regering se regstellende aksie program in 1999 aan mnr. Thabo Mbeki oorgedra het toe Mbeki nog adjunkpresident was.
Alastair Campbell, Blair se voormalige woordvoerder en beeldpoetser, skryf in sy dagboek wat hierdie week in Londen gepubliseer is oor ’n private ontmoeting in Januarie 1999 tussen Blair en Mbeki.
Campbell skryf dat Blair daartydens aan Mbeki gesê het dat die ANC regering “te geheg is aan die beleid van regstellende aksie”.
Volgens Campbell wou Blair die versekering van Mbeki hê dat “swart Suid-Afrikaners nie ryk sal word deur wit Suid-Afrikaners arm te maak nie”.
Erwin het gesê Suid-Afrika het gedurende die laaste paar jaar alles in sy vermoë gedoen om veral Suid-Afrikaanse ingenieurs uit die buiteland terug te lok.
“Ons het waarskynlik die meeste van die vaardigheid wat ons kan, teruggebring. Daar mag miskien nog meer daar buite wees, maar ons soek hulle.”
Hy sê nadat redelik baie ingenieurs die afgelope paar jaar teruggekeer het na Suid-Afrika, raak dit nou al hoe moeiliker om mense terug te lok vanweë die reuse-salarisse wat hulle in die buiteland verdien.
Hy sê een van die dinge wat kommer wek is dat net die helfte van ingenieurs wat in Suid-Afrika opgelei word, uiteindelik as ingenieurs werk. Die ander helfte gaan werk in ander industrieë en beroepe en daar is pogings om saam met ingenieursfirmas te werk om seker te maak dat alle ingenieurstudente in dié veld bly werk.

Friday, 13 July 2007

Regstel-aksie debat ook na Namibie

Dis nie net in Suid-Afrika wat die debat oor regstellende aksie opwarm nie. Mnr Jurie Viljoen van die Monitor Aksie Groep in die Namibiese Nasionale vergadering, het verlede week 'n mosie by die Nasionale Vergadering in Windhoek ingedien om te vra vir die insluiting van alle jongmense wat vanaf Januarie 1990 (die jaar na Namibie se onafhanklikheid) skool toe gegaan het, om voordeel te trek uit regstellende aksie maatreels.

Jurie het in sy motivering vir die mosie onder andere gese hy die mosie is nie maar net nog 'n besprekingspunt nie maar 'n belangrike een omdat die uitslag daarvan ver buite die grense van Namibie van belang is.

Jurie is natuurlik doodreg. Ons hou die afloop van die debat dop en wens hom sterkte toe. Ons saak wen altwee kante toe. As SWAPO instem tot Jurie se voorstelle is dit 'n reuse stap vooruit. As hulle dit afskiet, dan openbaar hulle vir die wereld hulle rassistiese anti-wit agenda.

Enkele uittreksels uit Jurie se toespraak:

"It is now 17 years after the independence of Namibia and the vast majority of the youth, both black and white, knows no other Government except the current ruling one...These learners should not be cut from equal opportunities and rights by Affirmative Action. This is a so-called new generation-born free from and only after an apartheid past".

"My motion is… that this Honorable House considers the expansion of beneficiaries of Affirmative Action to include all Namibians who started their school careers in 1990, irrespective of gender, race or color".

Wednesday, 11 July 2007

Naamsveranderings – waaroor die ophef?

Protes nie oor name alleen nie, maar oor wyse waarop regeer word

Naamsveranderinge is sedert 1994 één saak waaroor lede van die publiek uit die hoofsaaklik wit en Afrikaanssprekende gemeenskap in Suid-Afrika hulle apatie oor politieke sake opsy kon skuif.
Groot straat-optogte het al oor die beoogde verandering van Pretoria en Potchefstroom se name plaasgevind en die saak bly omstrede.

Die gemeenskap van Louis Trichardt het ook onlangs suksesvol Appelhof toe gegaan en dit reggekry om die verandering van hulle dorp se naam na Makhado te laat omkeer.

Enkele maande gelede het die hoofsaaklik Zoeloe-etniese party, die IVP ook die aandag getrek met ‘n reuse protesoptog in Durban waaraan tienduisende mense deelgeneem het. Hier het dit ook gegaan oor beoogde naamsveranderings. In die geval was dit die ANC beheerde Metroraad se planne om die naam van die Mangusuthu Hoofweg – wat na die IVP-leier en voormalige Hoofminister van Kwa-Zulu, Dr Mangusuthu Buthelezi vernoem is, te hernoem na ‘n ANC struggle-held.

Naamsveranderinge is egter niks nuuts nie. Voorbeelde is regdeur die geskiedenis te vind en dateer selfs uit die Bybelse tyd.

Bybelse voorbeelde

God het dikwels die name van mense verander om daardeur ‘n besondere verbintenis te bevestig. Abram het Abraham geword, Sarai het Sara geword, Jakob Israel en in die Nuwe Testament Saulus Paulus, om maar net ‘n paar voorbeelde te noem.

Naamsveranderinge van plekke is ook ‘n verskynsel wat al sedert Bybelse tye te vinde was veral wanneer gedenkwaardige gebeure of wonders plaasvind. Abraham hernoem byvoorbeeld die berg Moria na die Hebreeuse woord wat beteken “die Here sal voorsien” - nadat God uitkoms gee en Isak ‘n offerdood spaar. Uiteraard was die samelewing van die vroeë Bybelse tyd anders as vandag. ‘n Naamsverandering van ‘n plek is nêrens geproklameer of andersins wettig of amptelik gemaak nie. Dit was ‘n samelewing waarin die mondelinge tradisie geleef het. Name is in familie- en stamverband van geslag tot geslag oorgedra daarom was dit sekerlik moontlik dat vir een stam, een naam geld en vir ‘n ander stam weer ‘n ander naam.

Dis waarskynlik die rede waarom die verskynsel van verskillende name vir dieselfde plek volop voorkom. Jerusalem staan byvoorbeeld in Bybelse en na-Bybelse literatuur onder soveel as 70 name bekend. ‘n Paar voorbeelde van hierdie name was Salem (Gen 14:18), Sion (op 154 plekke in die Bybel gebruik, veral in die Psalms), Moria (Gen 22:2), Jebus (Rigters 19:10) en Ariël (Jes 29:1). Uiteraard was daar nie ‘n noodwendige chronologie waarin die name gebruik is nie. Die name is eerder afwisselend van geval tot geval gebruik. Hier was dus nie sprake formele veranderings van name nie maar eerder ‘n afwisselende gebruik van verskillende name vir dieselfde plek.

Dan het Jerusalem ook nog verskillende name gekry by elke bewindhebber wat die stad deur die geskiedenis beheer het. Die Romeine het die stad Aelia Capitolina genoem en die Moslem bewindhebbers van die Middeleeue en daarná: Al-Quds en Bayt al-Muqaddas. Bewindhebbers het natuurlik anders as meeste gewone mense geskrewe rekords gehou. Stede en streke moes immers geadministreer word en die name wat in die amptelike rekords sou voorkom dit sou natuurlik afhang van wie die bewindhebber op die bepaalde tydstip was.

Algemene geskiedenis voorbeelde

Namate modernisering in die wêreldgeskiedenis plaasgevind het, het die verskynsel van formele en amptelike name vir plekke begin posvat. Die neiging tot standaardisasie van elke aspek van die samelewing het ook begin deurgesyfer. Standaardisasie laat natuurlik nie werklik ruimte vir verskillende name vir dieselfde plek nie. Toenemend het die name wat ‘n bewindhebber aan plekke gee, dus die amptelike name van daardie plekke geword.

Die wêreldstad New York het aanvanklik na sy stigting deur Hollandse owerhede in 1624 as Nieu Amsterdam bekend gestaan. Na die Engelse besetting word die stad herdoop na New York. Daarna is die stad se naam weer na Nieu Oranje verander tydens ‘n kortstondige Nederlandse besetting vanaf Augustus 1673 maar na die finale oordrag van die Nederlandse gebiede in Noord Amerika na Engeland in November 1674 het die stad se naam finaal na New York terug verander.

Ook die voormalige Russiese hoofstad, St Petersburg (vernoem na die Apostel Petrus) het sedert sy stigting in 1703 verskeie naamsveranderings ondergaan. Vanaf 1914 tot 1924 staan die stad bekend as Petrograd en vanaf 1924 tot 1991 as Leningrad en sedertdien weer as St Petersburg. Weereens het die naamsveranderings verband gehou met politieke veranderinge en verskuiwings van die magsbalans in die land.

Sedert die 1950’s, het die verandering van plekname en afbreek van koloniale simbole in Afrika na dekolonisasie algemeen voorgekom. Die Goudkus het Ghana geword, Noord-Rhodesië het Zambië geword, Suidwes Afrika het Namibië geword, Kongo het Zaïre geword – net om ‘n paar jaar gelede weer tot die Demokratiese Republiek van Kongo herdoop te word. Die verband tussen die verandering in bewind en die verandering van name in die geval was dus voor-die-hand liggend.

Standaardisasie van plekname

Te midde van die proses van internasionalisering en globalisering, word die standaardisasie van plekname nog internasionaal gesien as ‘n noodsaaklike voorvereiste vir ontwikkeling groei en kommunikasie. Die Verenigde Nasies het selfs vir die doel ‘n spesiale werkgroep, bekend as die United Nations Group of Experts on Geographical Names (UNGEGN) op die been gebring. Die werkgroep bestempel dit byvoorbeeld in sy reklamemateriaal as ‘n ernstige potensiële probleem indien daar duplikasie van name in ramp geteisterde gebiede bestaan omdat dit verwarring kan skep omtrent lokaliteite war hulp verleen moet word. Die vraag is natuurlik of hierdie potensiële probleem vandag nog bestaan gegewe die gevorderde inligtings en GPS tegnologie wat vandag net so beskikbaar en toeganklik as ‘n konvensionele gedrukte atlas geword het, maar dit is ‘n aparte debat.

Die feit is dat Suid-Afrika hom daartoe verbind het om die proses van standaardisasie ook plaaslik in te faseer, is van meer belang wanneer die naamdebat in oënskou geneem word. Dit beteken dat die Suid Afrikaanse regering hom daartoe verbind het om ‘n proses aan die gang te sit om uiteindelik vir elke dorp of stad, slegs één amptelike naam te hê. In praktyk beteken dit dat daar nie ruimte gaan wees vir die amptelike gebruik van Tshwane of Pretoria of dan iPitoli (die Zoeloenaam vir Pretoria) wanneer van die hoofstad gepraat word nie, maar dat net een van die name uiteindelik amptelike status sal geniet. Dit is dan ook in hierdie proses van keuse-uitoefening waarbinne geweldige emosies opgewek word en waaroor in die artikel vêrder besin word.

Waarom die emosie?

Indien daar dan aanvaar moet word dat die proses van standaardisasie moet plaasvind (wat natuurlik debatteerbaar is) is die vraag waarom minderheidsgemeenskappe so emosioneel raak oor die ontwikkelinge en of dit werklik geregverdig is. Christene mag dalk vra of ‘n stryd oor die behoud van name (wat meestal mense vernoem) werklik onder Christene tuishoort. Is dit nie maar ‘n vorm van mense-verering nie?

Wanneer die vraag in isolasie beskou word sal die antwoord waarskynlik “ja” wees. Die stryd om behoud van name kan nooit deur Christene gevoer word asof die naam alles is en ten alle koste eerbiedig of beskerm moet word nie. Wat egter veel belangriker is, is die konteks waarbinne naamsveranderinge plaasvind en of dit spreek van regering in belang van al die regering se onderdane.

Hierbo is uitgewys hoe naamsveranderings van plekke gewoonlik gepaard gegaan het met politieke magsverskuiwings. Naamsveranderinge is in baie gevalle byna ‘n noodwendige gevolg van groot politieke omwentelinge.

Suid-Afrika was egter anders – so het baie geglo. Die politieke skikking van 1994 was algemeen aanvaar om nie ‘n skikking van wenners en verloorders, van veroweraars en verowerdes te wees nie. In die opsig verskil Suid-Afrika dus van al Afrika se voormalige kolonies. Daar het koloniale besetters die besetting beëindig en voormalige administrateurs en goewerneurs het hulle weer in hulle moederlande gaan vestig. In Suid-Afrika het die groot meerderheid van die wit minderheid gebly. Hulle het gebly met die hoop om steeds in die land aanvaar te word en steeds ‘n rol as Suid-Afrikaners te speel.

Hierdie denkbeeld, wat waarskynlik by meeste wit Suid-Afrikaners en minderhede geleef het is egter tot in sy fondamente geskud met die publikasie van ‘n onderhoud met die Minister van Kuns en Kultuur, Dr Pallo Jordan vroeër vanjaar in die Sondagblad Rapport. In antwoord op ‘n vraag wat hy maak met die regte van mense wat graag die name van plekke soos Pretoria en Potchefstroom behoue wil laat bly, het hy soos volg gereageer: “hoekom, reken Pretorius se afstammelinge dat húl regte nou saak maak? …Met perde en wapens en waens kon Pretorius en die Voortrekkers teenstanders vermoor, hul beeste vat, van hul kinders bediendes maak, en sê: ek gaan die plek verander na my beeld. Dáárdie mense se regte het nie vir Pretorius saak gemaak nie.” Hierdie woorde van die minister het by mense die realiteit laat deurdring dat die politieke prosesse wat aan die gang gesit is nie ‘n proses van regering, regstelling en standardisering is nie maar van wraak en vergelding.

Die reaksie teen die beoogde naamsveranderings is dus veel eerder ‘n reaksie teen die marginalisering, misdaad en nuwe ongelykhede wat eie aan Suid-Afrika geword het, as ‘n stryd om die verering van mense of die behoud van ‘n naam.