Wednesday, 31 October 2007

Jake White - 'n simbool en inspirasie

Jake White se aankondiging dat hy uittree as Springbok afrigter, laat mens tog met 'n gevoel van hartseer. Almal weet dis die regte ding om te doen. Hy het sy doelwitte bereik, 'n sukses gemaak en hy verlaat die partytjie op 'n baie hoe noot. Maar Jake White het 'n simbool geword van baie dinge wat Suid-Afrikaners vandag ook beleef.

Tot voor die wereldbekertoernooi was Jake White die slaansak van elke Jan-Rap en sy maat se kits-kundigheid oor rugby. Die vader van alle oningeligte kritici was sekerlik ons eie parlementere hofnar en sportkomitee voorsitter, Butana Kompela.

Die kritiek wat Kompela en SA Rugby se twee politieke aanstellings (Oregan Hoskins en Mike Stofile) dikwels ongegrond teen White uitgespreek het, was op 'n manier simptomaties van die tipe teenstand wat elke wit Suid-Afrikaner in die Suid-Afrika van vandag beleef. Ek spot dikwels dat Jake White se van waarskynlik die vernaamste rede was waarom baie ANC politici (wat die laaste week besonder stil was) hom so gehaat het.

Die onregverdige kritiek en teenstand wat White beleef het is op 'n manier analoog aan die onregverdige behandeling wat Suid-Afrikaners uit minderheidsgroepe aan die hand van veral misdaad, regstellende aksie en marginalisering in die werkplek beleef.

Maar soos White, ten spyte van teenkanting deur 'n klomp narre, sy visie behou het, sy doelwitte lewendig gehou het en sy manne aangespoor het om uiteindelik alle kritici se monde stil te maak, net so kan elke gemarginaliseerde in Suid-Afrika weet dat deur visie te behou, gemotiveerd te bly en die wenpaal in die oog te hou, die oorwinning tog anderkant die horison wag.

Dis die les wat ek geleer het uit die storie van Jake White.

Friday, 07 September 2007

Meeste punte, meeste drieë, geen beker

Lanklaas was ek so teleurgesteld oor ‘n sportuitslag soos met die parlementêre wêreldbeker wat pas in Parys ten einde geloop het.
As deel van die Suid-Afrikaanse span was dit heerlik om deel te wees van ‘n stukkie positiewe samespel. Na die tweede wedstryd was ek (en al die ander spanlede) oortuig dat die trofee vir ons wink.

Daar sou geen eindstryd wees nie en die wenner sou aangewys word deur na die spanne se vertonings in die drie wedstryde te kyk. ‘n Wen sou 3 beteken, ‘n gelykopuitslag 2 en ‘n verloor 1.

Almal was onder die indruk dat daar in geval van ‘n gelykopuitslag met toernooipunte, eers na wedstrydpunte aangeteken en daarna na drieë gedruk, gekyk sal word om die wenner te bepaal. Al ons planne was gevolglik gemaak rondom die druk van drieë. En dit het ons ook reggekry.
Donderdag was die laaste rondte wedstryde. Maar die organiseerders was onkant betrap. Hulle het begin besef dat daar teen hulle verwagtinge in, 3 spanne sou wees wat aldrie hulle wedstryde sou wen: SA, Nieu Zeeland en Australië.

Daar moes toe vinnig op ‘n werkswyse besluit word en die besluit word toe – op die laaste dag van die toernooi - geneem dat “punte aangeteken minus punte afgestaan” sou tel.
En dit was die spyker in ons kis. Ons het 15 punte afgestaan en Nieu Seeland slegs 8. Ons sou dus 7 meer punte as hulle moes aangeteken het om gelykop te wees. Ongelukkig het ons net 5 meer punte as hulle gehad – en daarmee was die slag gelewer. Nieu Seeland het die parlementêre wêreldbeker weer gewen – met minder punte, minder drieë en waarskynlik ‘n swakker span as ons s’n.

Die finale uitslag (eerste drie plekke) was soos volg

1. Nieu-Zeeland: 9 toenooipunte; 46 vir 8 teen; 7 driëe
2. Suid-Afrika: 9 toenooipunte; 51 vir 15 teen; 9 driëe
3. Australië: 9 toernooipunte; 42 vir 13 teen; 7 driee

Tuesday, 04 September 2007

SA nou die gunsteling in parlementêre rugbystryd

Na die tweede dag van spel in die Parlementêre Rugby Wêreldbeker toernooi is Suid-Afrika nou ‘n gunsteling om die toernooi te wen.

Die Suid-Afrikaanse span het in die eerste helfte van hulle wedstryd gister in die Stade Charlèty teen Frankryk spog-rugby gespeel. Drieë deur Jacques Sandt en Mossie Mostert van die polisie se parlementêre BBP eenheid, Abé Seldon van die parlementêre TV-diens en Fernando Faviers, 'n parlementere diensbeampte het die Suid-Afrikaners na 30 minute met 22-0 laat voorloop. Die Franse het in die tweede helfte teruggeveg en 2 drieë gedruk om die telling op 22-12 te laat eindig.

  • Ander uitslae van die dag was:
    Australië 13 - Zebras (gekombineerde span) 10, nadat Australië in die doodsnikke ‘n strafskop gekry het
  • UK Lords & Commons 10 - Argentinië 3; en
  • Nieu - Zeeland 12 - Ierland 3, ‘n ‘n drie en ‘n vervyfskop deur die Nieu Zeelanders in die laaste minuut.

Die laaste dag van spel is die 6de September. Daar is nie 'n eindstryd nie, en die span met die meeste punte wen die parlementêre wêreldbeker.

Tans is die puntestand soos volg:

Suid-Afrika: 9 toenooipunte; 32 wedstrydpunte; 6 driee
Australië: 8 toernooipnte; 30 wedstrydpunte; 5 driee
Nieu-Zeeland: 8 toenooipunte; 27 wedstrydpunte; 4 driee
Argentinië: 4 toenooipunte; 14 wedstrydpunte; 1 drie
UK Lords & Commons: 4 toenooipunte; 10 wedstrydpunte; 2 driee
Frankryk: 0 toenooipunte; 17 wedstrydpunte; 3 driee
Zebras gekombineerde span: 0 toernooipnte; 13 wedstrydpunte; 2 driee
Ierland: 0 toenooipunte; 11 wedstrydpunte; 1 drie

59 parlementslede en 178 parlementêre beamptes van 7 rugbyspelende lande neem aan die toernooi deel. Die Suid-afrikaanse span se laaste wedstryd is teen die UK Lords & Commons op Donderdag 6 September in die Stade Yves du Manoir, Parys.

Vir navrae, kontak
Willie Spies
Tel 0033153 46 50 50 vra vir 238

Sunday, 02 September 2007

Rugby, oorlopery, Engeland

Ek is op die oomblik in Engeland. Ek neem tans saam met 9 ander LPs en 'n klompie parlementere personeel deel aan die Rugby Wereldbeker vir parlementere spanne. Daar moet te alle tye 6 LP op die veld wees, wat beteken dat ek nou ook 'n kwotaspeler is.

Ons eerste wedstryd was Vrydag Clarant, naby Parys. Ons het gespeel teen 'n gekombineerde span van parlementslede en "huursoldate" van oral. Ek self het na so 10 minute op die veld 'n bloedneus gekry. My spanmaats is baie beindruk met die feit dat ek die eerste een was wat "gebloei het vir my land". Ons het uiteindelik met 10-3 gewen.

Ander uitslae van die dag was: Nieu-Seeland 15 Frankryk 0; Argentinie 11 Ierland 8 en Australie 21 UK Lords & Commons 0.

More speel ons teen die Franse parlement.

Die oorloopseisoen het begin en die VF Plus se eerste wins is in die Groter-Pretoria Streek! Deon van Tonder die DA se raadslid vir Wyk 1 (Silver Lakes en Mooikloof), Kungwini het gister by die VF Plus aangeluit. Ons het ons verteenwoordiging in die Kungwini raad nou verdubbel en daarmee saam ook (waarskynlik) ons verteenwoordiging in die Metsweding Distriks-munisipaliteit.

Gister het ek met die Eurostar-trein van Parys na London gereis. Die trein ry teen so 200 km/h tussen Parys en London en stop nerens. Die hele rit neem so 2 uur en 40 minute. In Engeland aangekom, het ek saam met my skoonouers gaan middagete eet in die "Bel and the Dragon"-restourantjie in Windsor (op die queen se drumpel). Al drie die kelners is Suid-Afrikaners: twee Afrikaners van Bloemfontein en Pretoria en een swart meisie van Limpopo (of "Limpompo" soos sy dit noem). Gisteraand het ek saam met my skoonouers en 5 Afrikaanse gesinne in Swindon gaan braai. Trouens, toe ek gisteraand gaan slaap besef ek, ek het na 'n dag in Engeland meer Afrikaans met vreemde mense gepraat as op 'n tipiese dag in Kaapstad. Skrikwekkend!

Vanmiddag is dit terug Parys toe vir die rugby more.

Friday, 03 August 2007

Genoeg is Genoeg met Tshwane knoeiery

Die VF Plus vergader vanoggend met senior advokate in Pretoria om voor te berei op ‘n regsproses wat die onsekerheid oor die naam van Pretoria vir eens en vir altyd tot ‘n bevredigende beslissing moet bring.

Ons het nou genoeg gehad van die Tshwane Metroraad se jarelange geknoei met die naam van Pretoria.

Nuusberigte in Beeld vandag lui dat die Tshwane Metroraad nou ‘n interne brief sirkuleer waarin die voorneme bekend gemaak word om sonder meer alle naamborde op munisipale, provinsiale en nasionale paaie vanaf Pretoria na Tshwane te verander.

Dit is totaal ongehoord. Naamborde kan alleenlik verander word om amptelike plekname soos goedgekeur en geregistreer in die Nasionale Pleknaam-register te reflekteer. Die Minister van Kuns en Kultuur het nog nie die Metroraad se versoek om Tshwane se naam as pleknaam te registreer goedgekeur nie en die Premier van Gauteng het boonop aanbeveel dat die aansoek teruggetrek behoort te word.

Dit is nou duidelik dat die Metroraad besef het dat hy hopeloos verkeerd opgetree het deur twee jaar gelede teen wil en dank voort te gaan met die aansoek om die naam Tshwane as pleknaam te registreer. Wat hulle nou doen is om hulle fout reg te knoei deur met naamborde en advertensies ‘n skynwerklikheid te skep ten opsigte van ‘n administratiewe proses wat onvoltooid en onvoldoende was. Ons gaan nie toelaat dat die Metroraad ‘n kosbare kultuur-erfenis en die trotse geskiedenis wat dit verteenwoordig met sy onbeholpe administratiewe onvermoë uitwis nie.

Afgesien van die registrasie van die naam Pretoria op die geografiese nameregister, kom die Pretoria naam ook by die Aktekantoor en Landmeter-generaal se dorpsregisters voor in 17 geregistreerde dorpsname waaronder Pretoria-Noord, Pretoria-Wes, Pretoria-Tuine en Pretoria Nywerheidsgebied.

Friday, 27 July 2007

Slaan eerste!

Baie dinge het my al verras in die politiek. Maar die nuus dat die DA se parlementere leidster Sandra Botha nou die slagspreuk "slaan eerste" as rassisties uitsonder, oortref alles.
Stommiteite soos die DA se jongste veroordeling van die VF Plus se veldtog teen kwotas op Kovsiekoshuise kos partye baie duur. Ek dink die DA gaan die politieke instinkte van sy voormalige leier Tony Leon mis.

Wednesday, 18 July 2007

Absurde denke oor regstelaksie

Ek was gisteraand verstom om oor die nuus te hoor dat Mbeki se "dinkskrum" reken wittes is nou beter daaraan toe danksy regstellende aksie. Volgens die taakgroep is wit mans en vroue die grootste begunstigdes onder regstellende aksie.

Ek dink hierdie een sal ook in die geskiedenis onthou word as een van die absurditeite uit die Mbeki-era. Ander soortgelyke foutballe was Mbeki se standpunte oor Vigs en Zimbabwe.

Die VF Plus en Solidariteit het reeds by verskeie geleenthede kommer uitgespreek oor die betroubaarheid van die syfers soos weerspieël in die verslag van die Gelyke Indiensnemingskommissie - dis nou die verslag wat as basis gebruik word vir die taakgroep se gevolgtrekkings.

Die verslag se vernaamste fokus is die samestelling van die topbestuursvlakke van maatskappye wat in die betrokke jaar gelyke indiensnemingsverslae ingedien het. Dit verteenwoordig nie eers 5% van die totale arbeidsmark nie. Op die laer posvlakke is wit Suid-Afrikaners byna sonder uitsondering onderverteenwoordig.

Dit is juis wit werksoekers op die intreevlakke wat die druk van regstellende aksie die ergste voel. Armoede onder wit Suid-Afrikaners neem ook die vinnigste toe. Volgens sekere berekeninge tel soveel as 400 000 wit gesinne onder die armstes in die land. Afgesien het soveel as 1 miljoen wit Suid-Afrikaners reeds die land verlaat, meestal weens regstellende aksie en misdaad.

Aartsbiskop Desmond Tutu het die naweek tydens ‘n byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke kritiek uitgespreek op die feit dat regstellende aksie mense uit die land uit dryf.