Friday, 03 August 2007

Genoeg is Genoeg met Tshwane knoeiery

Die VF Plus vergader vanoggend met senior advokate in Pretoria om voor te berei op ‘n regsproses wat die onsekerheid oor die naam van Pretoria vir eens en vir altyd tot ‘n bevredigende beslissing moet bring.

Ons het nou genoeg gehad van die Tshwane Metroraad se jarelange geknoei met die naam van Pretoria.

Nuusberigte in Beeld vandag lui dat die Tshwane Metroraad nou ‘n interne brief sirkuleer waarin die voorneme bekend gemaak word om sonder meer alle naamborde op munisipale, provinsiale en nasionale paaie vanaf Pretoria na Tshwane te verander.

Dit is totaal ongehoord. Naamborde kan alleenlik verander word om amptelike plekname soos goedgekeur en geregistreer in die Nasionale Pleknaam-register te reflekteer. Die Minister van Kuns en Kultuur het nog nie die Metroraad se versoek om Tshwane se naam as pleknaam te registreer goedgekeur nie en die Premier van Gauteng het boonop aanbeveel dat die aansoek teruggetrek behoort te word.

Dit is nou duidelik dat die Metroraad besef het dat hy hopeloos verkeerd opgetree het deur twee jaar gelede teen wil en dank voort te gaan met die aansoek om die naam Tshwane as pleknaam te registreer. Wat hulle nou doen is om hulle fout reg te knoei deur met naamborde en advertensies ‘n skynwerklikheid te skep ten opsigte van ‘n administratiewe proses wat onvoltooid en onvoldoende was. Ons gaan nie toelaat dat die Metroraad ‘n kosbare kultuur-erfenis en die trotse geskiedenis wat dit verteenwoordig met sy onbeholpe administratiewe onvermoĆ« uitwis nie.

Afgesien van die registrasie van die naam Pretoria op die geografiese nameregister, kom die Pretoria naam ook by die Aktekantoor en Landmeter-generaal se dorpsregisters voor in 17 geregistreerde dorpsname waaronder Pretoria-Noord, Pretoria-Wes, Pretoria-Tuine en Pretoria Nywerheidsgebied.