Friday, 07 September 2007

Meeste punte, meeste drieë, geen beker

Lanklaas was ek so teleurgesteld oor ‘n sportuitslag soos met die parlementêre wêreldbeker wat pas in Parys ten einde geloop het.
As deel van die Suid-Afrikaanse span was dit heerlik om deel te wees van ‘n stukkie positiewe samespel. Na die tweede wedstryd was ek (en al die ander spanlede) oortuig dat die trofee vir ons wink.

Daar sou geen eindstryd wees nie en die wenner sou aangewys word deur na die spanne se vertonings in die drie wedstryde te kyk. ‘n Wen sou 3 beteken, ‘n gelykopuitslag 2 en ‘n verloor 1.

Almal was onder die indruk dat daar in geval van ‘n gelykopuitslag met toernooipunte, eers na wedstrydpunte aangeteken en daarna na drieë gedruk, gekyk sal word om die wenner te bepaal. Al ons planne was gevolglik gemaak rondom die druk van drieë. En dit het ons ook reggekry.
Donderdag was die laaste rondte wedstryde. Maar die organiseerders was onkant betrap. Hulle het begin besef dat daar teen hulle verwagtinge in, 3 spanne sou wees wat aldrie hulle wedstryde sou wen: SA, Nieu Zeeland en Australië.

Daar moes toe vinnig op ‘n werkswyse besluit word en die besluit word toe – op die laaste dag van die toernooi - geneem dat “punte aangeteken minus punte afgestaan” sou tel.
En dit was die spyker in ons kis. Ons het 15 punte afgestaan en Nieu Seeland slegs 8. Ons sou dus 7 meer punte as hulle moes aangeteken het om gelykop te wees. Ongelukkig het ons net 5 meer punte as hulle gehad – en daarmee was die slag gelewer. Nieu Seeland het die parlementêre wêreldbeker weer gewen – met minder punte, minder drieë en waarskynlik ‘n swakker span as ons s’n.

Die finale uitslag (eerste drie plekke) was soos volg

1. Nieu-Zeeland: 9 toenooipunte; 46 vir 8 teen; 7 driëe
2. Suid-Afrika: 9 toenooipunte; 51 vir 15 teen; 9 driëe
3. Australië: 9 toernooipunte; 42 vir 13 teen; 7 driee

Tuesday, 04 September 2007

SA nou die gunsteling in parlementêre rugbystryd

Na die tweede dag van spel in die Parlementêre Rugby Wêreldbeker toernooi is Suid-Afrika nou ‘n gunsteling om die toernooi te wen.

Die Suid-Afrikaanse span het in die eerste helfte van hulle wedstryd gister in die Stade Charlèty teen Frankryk spog-rugby gespeel. Drieë deur Jacques Sandt en Mossie Mostert van die polisie se parlementêre BBP eenheid, Abé Seldon van die parlementêre TV-diens en Fernando Faviers, 'n parlementere diensbeampte het die Suid-Afrikaners na 30 minute met 22-0 laat voorloop. Die Franse het in die tweede helfte teruggeveg en 2 drieë gedruk om die telling op 22-12 te laat eindig.

  • Ander uitslae van die dag was:
    Australië 13 - Zebras (gekombineerde span) 10, nadat Australië in die doodsnikke ‘n strafskop gekry het
  • UK Lords & Commons 10 - Argentinië 3; en
  • Nieu - Zeeland 12 - Ierland 3, ‘n ‘n drie en ‘n vervyfskop deur die Nieu Zeelanders in die laaste minuut.

Die laaste dag van spel is die 6de September. Daar is nie 'n eindstryd nie, en die span met die meeste punte wen die parlementêre wêreldbeker.

Tans is die puntestand soos volg:

Suid-Afrika: 9 toenooipunte; 32 wedstrydpunte; 6 driee
Australië: 8 toernooipnte; 30 wedstrydpunte; 5 driee
Nieu-Zeeland: 8 toenooipunte; 27 wedstrydpunte; 4 driee
Argentinië: 4 toenooipunte; 14 wedstrydpunte; 1 drie
UK Lords & Commons: 4 toenooipunte; 10 wedstrydpunte; 2 driee
Frankryk: 0 toenooipunte; 17 wedstrydpunte; 3 driee
Zebras gekombineerde span: 0 toernooipnte; 13 wedstrydpunte; 2 driee
Ierland: 0 toenooipunte; 11 wedstrydpunte; 1 drie

59 parlementslede en 178 parlementêre beamptes van 7 rugbyspelende lande neem aan die toernooi deel. Die Suid-afrikaanse span se laaste wedstryd is teen die UK Lords & Commons op Donderdag 6 September in die Stade Yves du Manoir, Parys.

Vir navrae, kontak
Willie Spies
Tel 0033153 46 50 50 vra vir 238

Sunday, 02 September 2007

Rugby, oorlopery, Engeland

Ek is op die oomblik in Engeland. Ek neem tans saam met 9 ander LPs en 'n klompie parlementere personeel deel aan die Rugby Wereldbeker vir parlementere spanne. Daar moet te alle tye 6 LP op die veld wees, wat beteken dat ek nou ook 'n kwotaspeler is.

Ons eerste wedstryd was Vrydag Clarant, naby Parys. Ons het gespeel teen 'n gekombineerde span van parlementslede en "huursoldate" van oral. Ek self het na so 10 minute op die veld 'n bloedneus gekry. My spanmaats is baie beindruk met die feit dat ek die eerste een was wat "gebloei het vir my land". Ons het uiteindelik met 10-3 gewen.

Ander uitslae van die dag was: Nieu-Seeland 15 Frankryk 0; Argentinie 11 Ierland 8 en Australie 21 UK Lords & Commons 0.

More speel ons teen die Franse parlement.

Die oorloopseisoen het begin en die VF Plus se eerste wins is in die Groter-Pretoria Streek! Deon van Tonder die DA se raadslid vir Wyk 1 (Silver Lakes en Mooikloof), Kungwini het gister by die VF Plus aangeluit. Ons het ons verteenwoordiging in die Kungwini raad nou verdubbel en daarmee saam ook (waarskynlik) ons verteenwoordiging in die Metsweding Distriks-munisipaliteit.

Gister het ek met die Eurostar-trein van Parys na London gereis. Die trein ry teen so 200 km/h tussen Parys en London en stop nerens. Die hele rit neem so 2 uur en 40 minute. In Engeland aangekom, het ek saam met my skoonouers gaan middagete eet in die "Bel and the Dragon"-restourantjie in Windsor (op die queen se drumpel). Al drie die kelners is Suid-Afrikaners: twee Afrikaners van Bloemfontein en Pretoria en een swart meisie van Limpopo (of "Limpompo" soos sy dit noem). Gisteraand het ek saam met my skoonouers en 5 Afrikaanse gesinne in Swindon gaan braai. Trouens, toe ek gisteraand gaan slaap besef ek, ek het na 'n dag in Engeland meer Afrikaans met vreemde mense gepraat as op 'n tipiese dag in Kaapstad. Skrikwekkend!

Vanmiddag is dit terug Parys toe vir die rugby more.