Wednesday, 31 October 2007

Jake White - 'n simbool en inspirasie

Jake White se aankondiging dat hy uittree as Springbok afrigter, laat mens tog met 'n gevoel van hartseer. Almal weet dis die regte ding om te doen. Hy het sy doelwitte bereik, 'n sukses gemaak en hy verlaat die partytjie op 'n baie hoe noot. Maar Jake White het 'n simbool geword van baie dinge wat Suid-Afrikaners vandag ook beleef.

Tot voor die wereldbekertoernooi was Jake White die slaansak van elke Jan-Rap en sy maat se kits-kundigheid oor rugby. Die vader van alle oningeligte kritici was sekerlik ons eie parlementere hofnar en sportkomitee voorsitter, Butana Kompela.

Die kritiek wat Kompela en SA Rugby se twee politieke aanstellings (Oregan Hoskins en Mike Stofile) dikwels ongegrond teen White uitgespreek het, was op 'n manier simptomaties van die tipe teenstand wat elke wit Suid-Afrikaner in die Suid-Afrika van vandag beleef. Ek spot dikwels dat Jake White se van waarskynlik die vernaamste rede was waarom baie ANC politici (wat die laaste week besonder stil was) hom so gehaat het.

Die onregverdige kritiek en teenstand wat White beleef het is op 'n manier analoog aan die onregverdige behandeling wat Suid-Afrikaners uit minderheidsgroepe aan die hand van veral misdaad, regstellende aksie en marginalisering in die werkplek beleef.

Maar soos White, ten spyte van teenkanting deur 'n klomp narre, sy visie behou het, sy doelwitte lewendig gehou het en sy manne aangespoor het om uiteindelik alle kritici se monde stil te maak, net so kan elke gemarginaliseerde in Suid-Afrika weet dat deur visie te behou, gemotiveerd te bly en die wenpaal in die oog te hou, die oorwinning tog anderkant die horison wag.

Dis die les wat ek geleer het uit die storie van Jake White.