Saturday, 19 January 2008

Lig in die tonnel

Vandag was ek verstom om in die winkel te kom en by 'n gewone ou oom te verneem van sy (en ek glo duisende ander soos hy se ongetemde woede oor die kragonderbrekings. Ek sal die goed wat hy kwytgeraak het nie herhaal nie, maar hy was kwaad.

Ek verneem van plekke wat reeds drie dae na mekaar byna voldag sonder krag was. Wat mense nog moedeloser maak is die feit dat daar geen einde in sig is vir die ellende wat deur die beterweterige bewindshebbers se wanbestuur veroorsaak is nie.

Die Oom in die winkel druk met sy wysvinger op die voorbladfoto op Beeld van treine wat deur gefrustreerde pendelaars aan die brand gesteek is en se: "sien jy, hulle maak alles tot niet. Hulle het die krag opgeneuk en nou dink hulle hulle gaan die probleem oplos deur die trein te vernietig. Wat gaan in hulle koppe aan?!"

Die vryskutjoernalis en energiekenner, Andrew Kenny skryf nou die dag vir my die enigste manier waarop Suid-Afrika die 2010 Wereldbeker kan aanpak is met die toepassing van drastiese beurtkragmaatreels. Die stede waar wedstryde gespeel gaan word gaan krag he, maar die res van die land gaan in donker gehul wees.

Dit kan tog nie daar gelos word nie. Ons moet iets doen. Ons land is ryp vir verandering.

Ek gesels bietjie met die Oom en eintlik het ek nie antwoorde nie. Dit help nie om hom te herinner dat ek onlangs Jan Heunis se boek "die Binnekring" gelees het en dat ek uit die perd se bek gehoor het dat die "onderhandelaars" vir 'n nuwe grondwet 15 jaar terug nie 'n vinger verroer het om iets vir die mense wat hulle daar gekry het, te onderhandel nie. En dat wat ons nou beleef net die logiese uiteinde van daardie proses is nie.

Ek noem toe maar vir die Oom dat die toekoms nie in die hande van die huidige bewindhebbers is nie, maar die die hande van Een wat groter as ons almal is. Soos die koloniale bewind in Suid-Afrika sy einde gehad het, so het ook die apartheidsbewind sy Moses teegekom, maar helaas, so sal ook die huidige bewind ook op sy tyd tot niet gaan. Ons moet ons net met die regte dinge besig hou, aanhou werk, aanhou droom en die geloof behou - daar is hoop op uitkoms.

Die Oom se blik versag en sy vrou langs hom stem heftig saam. Ons groet mekaar en ek se vir die Oom hy moet moed hou. Hy glimlag vir die eerste keer: "ou maat onthou, voor in die wapad brand 'n lig, ne?.."

Ja Oom, daardie Lig brand en geen mens kan dit uitdoof nie.