Sunday, 02 September 2007

Rugby, oorlopery, Engeland

Ek is op die oomblik in Engeland. Ek neem tans saam met 9 ander LPs en 'n klompie parlementere personeel deel aan die Rugby Wereldbeker vir parlementere spanne. Daar moet te alle tye 6 LP op die veld wees, wat beteken dat ek nou ook 'n kwotaspeler is.

Ons eerste wedstryd was Vrydag Clarant, naby Parys. Ons het gespeel teen 'n gekombineerde span van parlementslede en "huursoldate" van oral. Ek self het na so 10 minute op die veld 'n bloedneus gekry. My spanmaats is baie beindruk met die feit dat ek die eerste een was wat "gebloei het vir my land". Ons het uiteindelik met 10-3 gewen.

Ander uitslae van die dag was: Nieu-Seeland 15 Frankryk 0; Argentinie 11 Ierland 8 en Australie 21 UK Lords & Commons 0.

More speel ons teen die Franse parlement.

Die oorloopseisoen het begin en die VF Plus se eerste wins is in die Groter-Pretoria Streek! Deon van Tonder die DA se raadslid vir Wyk 1 (Silver Lakes en Mooikloof), Kungwini het gister by die VF Plus aangeluit. Ons het ons verteenwoordiging in die Kungwini raad nou verdubbel en daarmee saam ook (waarskynlik) ons verteenwoordiging in die Metsweding Distriks-munisipaliteit.

Gister het ek met die Eurostar-trein van Parys na London gereis. Die trein ry teen so 200 km/h tussen Parys en London en stop nerens. Die hele rit neem so 2 uur en 40 minute. In Engeland aangekom, het ek saam met my skoonouers gaan middagete eet in die "Bel and the Dragon"-restourantjie in Windsor (op die queen se drumpel). Al drie die kelners is Suid-Afrikaners: twee Afrikaners van Bloemfontein en Pretoria en een swart meisie van Limpopo (of "Limpompo" soos sy dit noem). Gisteraand het ek saam met my skoonouers en 5 Afrikaanse gesinne in Swindon gaan braai. Trouens, toe ek gisteraand gaan slaap besef ek, ek het na 'n dag in Engeland meer Afrikaans met vreemde mense gepraat as op 'n tipiese dag in Kaapstad. Skrikwekkend!

Vanmiddag is dit terug Parys toe vir die rugby more.

1 comment:

gerhard said...

Kry julle nie skaam om oorlopers te vat nie?