Friday, 07 September 2007

Meeste punte, meeste drieë, geen beker

Lanklaas was ek so teleurgesteld oor ‘n sportuitslag soos met die parlementêre wêreldbeker wat pas in Parys ten einde geloop het.
As deel van die Suid-Afrikaanse span was dit heerlik om deel te wees van ‘n stukkie positiewe samespel. Na die tweede wedstryd was ek (en al die ander spanlede) oortuig dat die trofee vir ons wink.

Daar sou geen eindstryd wees nie en die wenner sou aangewys word deur na die spanne se vertonings in die drie wedstryde te kyk. ‘n Wen sou 3 beteken, ‘n gelykopuitslag 2 en ‘n verloor 1.

Almal was onder die indruk dat daar in geval van ‘n gelykopuitslag met toernooipunte, eers na wedstrydpunte aangeteken en daarna na drieë gedruk, gekyk sal word om die wenner te bepaal. Al ons planne was gevolglik gemaak rondom die druk van drieë. En dit het ons ook reggekry.
Donderdag was die laaste rondte wedstryde. Maar die organiseerders was onkant betrap. Hulle het begin besef dat daar teen hulle verwagtinge in, 3 spanne sou wees wat aldrie hulle wedstryde sou wen: SA, Nieu Zeeland en Australië.

Daar moes toe vinnig op ‘n werkswyse besluit word en die besluit word toe – op die laaste dag van die toernooi - geneem dat “punte aangeteken minus punte afgestaan” sou tel.
En dit was die spyker in ons kis. Ons het 15 punte afgestaan en Nieu Seeland slegs 8. Ons sou dus 7 meer punte as hulle moes aangeteken het om gelykop te wees. Ongelukkig het ons net 5 meer punte as hulle gehad – en daarmee was die slag gelewer. Nieu Seeland het die parlementêre wêreldbeker weer gewen – met minder punte, minder drieë en waarskynlik ‘n swakker span as ons s’n.

Die finale uitslag (eerste drie plekke) was soos volg

1. Nieu-Zeeland: 9 toenooipunte; 46 vir 8 teen; 7 driëe
2. Suid-Afrika: 9 toenooipunte; 51 vir 15 teen; 9 driëe
3. Australië: 9 toernooipunte; 42 vir 13 teen; 7 driee

No comments: