Thursday, 20 May 2010

Belastingbetalers moet die tirannie van die meerderheid self takel


Toe die Bostonse regsgeleerde, James Otis in February 1761 die argument "taxation without representation is tyranny" in 'n betoog voor 'n komitee van die destydse wetgewer van Massachusetts gevoer het, het hy min geweet dat die spreuk die inspirasie sou word van 'n revolusie wat sou lei tot die geboorte van die VSA.

Anders gestel, sê die spreuk dat net 'n tiran vir mense belasting oplê sonder om hulle te ken oor die spandering van daardie belasting.

Interessant genoeg, ontvou 'n ander tipe tirannie homself in Suid-Afrika.

Tydens 'n ontmoeting met 'n groep belastingbetalers van Wolmaransstad, vertel een sakeman my dat hy op sy drie eiendomme in die dorp – 'n woonerf, 'n besigheidserf en 'n nywerheidserf – meer belasting betaal as die hele aangrensende township. "Ons finansier ons eie ondergang", sê hy ontstoke.

Wanneer verkiesings plaasvind, stem die nagenoeg 15 000 township-kiesers soos een man vir die ANC terwyl die 2 000 dorpsinwoners se stemme grootliks verdeel is tussen die plaaslike inwonersvereniging en die opposisie partye.

Terwyl die meerderheid telkens in verkiesings seëvier, gaan dienslewering dramaties agteruit en raak dorpe, stede en plase onveiliger, veral vir die swaar belaste minderhede. Dit gebeur landwyd.

Ironies genoeg, het die einste inwoners wat soos een man vir ANC rade gestem het die afgelope aantal maande in hewige dienstebetogings teen hulle plaaslike rade betrokke geraak. Beelde van dikwels geweldadige massaoptrede in Brits, Balfour en Standerton is nog vars in die geheue.

Enersyds is die inwoners van munisipaliteite ontevrede – andersyds het inwoners van groot stede die afgelope weke gesien hoe munisipale werkers staak. Die werkers het skynbaar gevrees dat niemand agterkom dat hulle staak nie – en daarom is die impak van die staking vergroot deur die uitgooi van vullisblikke en die saai van totale chaos in die groot stede.

Terwyl hierdie absurde prentjie homself afspeel, het belastingbetalers reeds landwyd begin om hulleself in plaaslike belasting-aksies te organiseer. Meer as 250 belastingbetalersaksies bestaan reeds.

Belasting word dikwels in 'n aparte trustrekening inbetaal, nadat 'n dispuut met die plaaslike owerheid ingevolge Artikel 102 van die Munisipale Stelsels Wet verklaar is. Die geldigheid van die argumente wat belastingbetalers oor die verklaring van dispute kragtens artikel 102 lewer moet egter nog in die howe getoets word. Maar ongeag wat die howe mag beslis, bestaan daar nou 'n feitelike situasie landwyd dat belastingbetalers betrokke geraak het by die bestuur van hulle dorpe en die lewering van dienste – al is dit op 'n onkonvensionele manier.

In plekke soos Sannieshof, het die belastingbetalers al self ingespring om waterbesoedeling in die dorp en in die township te bestry en elders spring belastingbetalers self aan die werk om slaggate op te vul, sypaadjies te verfraai of waterlekke te herstel.

In teenstelling met die rommelstrooiing en chaos van stakende munisipale amptenare is die protes van belastingbetalers dus eintlik opbouend. Mens sou verwag dat die owerheid die belastingbetalers bedank vir hulle optrede en maniere sou ondersoek waarop die opbouende en deelnemende optrede van belastingbetalers geïntegreer kan word by munisipale omkeerstrategieë.

Maar die regering dink skynbaar anders. Trouens, hy speel sy ou troef -die rassekaart.

Tydens 'n mediakonferensie sonder die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Leierskap, Sicelo Shiceka, belastingbetalersverenigings (van alle dinge) uit as die sondebokke vir die verval van munisipale dienste. Hy meen dat belastingbetalers "parallelle regerings" geskep het wat die regering ondermyn. Shiceka dreig selfs "wit" belastingbetalers dat hulle hulle vir "oorlog" moet voorberei (Beeld 3 Maart 2010).

Ook die Gautengse premier me. Nomvula Mokonyane was gou om Shiceka te verdedig en te kla dat "wit rassiste daarop uit is om die Tshwane-metroraad geldelik te wurg" (Beeld 11 Maart 2010).

Asof bogenoemde uitsprake nie genoeg omstredenheid uitgelok het nie, besluit die premier om haar woede teenoor wittes nog verder te voer. Op 6 April – vyf dae nadat AfriForum 'n interdik in die Pretoriase Hooggeregshof verkry het teen die sing van die haatlied Dubul' iBunhu en drie dae nadat nuus oor die brutale moord op Eugene Terre'blanche die wêreld geruk het – sing sy en die beleërde burgemeester van Tshwane Dr Gwen Ramokgopa die haatlied saam tydens 'n herdenkingsgeleentheid in Mamelodi.

Die gebeure laat belastingbetalers met die vraag: waarheen nou? As lede van 'n sigbare minderheid moet veral wit Suid-Afrikaners hulleself toenemend op die howe beroep om hulle regte te beskerm en die regstaat te verdedig. Weereens word hierdie pogings om die grondwet en die regstaat te verdedig nie verwelkom nie, maar met woede begroet. Die ANC sekretaris-generaal, mnr Gwede Mantashe se reaksie daarop is om te kla dat "regses wat hulleself op die howe beroep tans die grootste enkele vyand van transformasie" in die land is.

Die tirannie van die meerderheid kan nie deur 'n klomp vryswewende enkelinge teengewerk word nie. Belastingbetalers en inwoners van plaaslike gemeenskappe moet hulleself landswyd organiseer in plaaslike burgerregte-forums rondom daardie twee sake waarin die owerheid faal: gemeenskapsveiligheid en plaaslike dienslewering.

AfriForum funksioneer tans op nasionale vlak en spreek burgerregte kwessies op die twee terreine reeds op daardie vlak aan. Dit het nou noodsaaklik geword dat AfriForum homself vermenigvuldig deur sy snelgroeiende ledebasis in plaaslike gemeenskapsverband te aktiveer. 'n Burgerregte-forum in elke dorp en stad van ons land.

Die tirannie moet bestry word deur die opbouende verset van 'n lewenskragtige en goedgeorganiseerde minderheid wat in plaaslike verband deur veiligheidsaksies die polisiediens help om weer hulle strate in besit neem en kriminele weg te dryf, slaggate te herstel, waterlekke reg te maak en sypaadjies te verfraai.

Vandeesweek se landwye Solidariteit-aksie waaraan plaaslike gemeenskappe by 351 polisiestasies deelgeneem het, kan as die eerste stap na 'n landwye netwerk van burgerregteforums dien.

Wanneer goeie mense niks doen nie – sal die tirannie voortduur. Ons kan dus nie meer stilsit nie.

Willie Spies (regsverteenwoordiger van AfriForum)


No comments: