Saturday, 08 May 2010

Marie Spies (23 Mei 1932 – 4 Mei 2010)

Huldeblyk en bedankings – 7 Mei 2010

Mamma het haarself nooit op haar doopname voorgestel nie. Meeste het haar bloot leer ken as Marie.

Net haar naaste familie uit haar ouerhuis in Knysna het haar "Maria" genoem. Of sommer Marja – met die klem op die eerste "a" – tot haar ergernis.

Maar in hierdie pragtige en welbekende naam lê soveel betekenis opgesluit – begenadigde.

Omdat sy ons ma was, het sy ons leer praat – ons woordeskat is deur haar gevorm.

En deur haar gesprekke met ons (en sy kon lekker gesels) het sy by elkeen in ons gesin 'n woordeskat vasgelê het wat deurweef was van teksgedeeltes uit die Bybel.

Daardie teksgedeeltes het vasgesteek – sonder dat ons noodwendig eers die teksverwysings daarvan sou ken of onthou sou dit daardie beloftes van die Here soos keurige borduurwerk deel van elkeen van ons se lewens word.

"Sy genade is vir ons genoeg" – het sy gereeld uit 2 Kor 12:9 aangehaal.

Selfs in haar laaste verjaarsdagwense aan Pappa skryf sy op 1 April vanjaar: "Mag Hy ons nog lank vir mekaar spaar, en dat Sy genade vir ons genoeg sal wees!!"

Maar sy genade was selfs meer oorvloedig as wat Mamma op 1 April voorsien het. Op 4 Mei was sy 77 jaar 11 maande en 11 dae oud en op daardie dag het ons Hemelse Vader haar na Hom geneem.

Mamma het altyd vertel hoe baie die syfer 7 – die Bybelse volmaakte getal - in haar lewe beteken:

  • Sy en Pappa is op die 7de van die 7de maand 1956 getroud;
  • Hulle het 7 kinders;
  • Haar moeder is op ouderdom 49 (dis sewe maal sewe) oorlede;
  • Sy het 21 (dis drie maal sewe) kleinkinders;
  • Sy was 77 jaar oud toe sy oorlede is; en
  • Helaas begrawe ons haar vandag op die 7de dag van haar verjaarsdagmaand.

Maar ek het gesê dat haar lewe was sprekende voorbeeld is van iemand vir wie God se genade inderdaad genoeg was.

Ons het dikwels gevrees vir mamma se gesondheid – en haar lewe. Vyf-en-twintig jaar gelede in Junie-maand 1985 is sy opgeneem vir 'n hart-omleidingsoperasie. Sekere lewensbelangrike hartare was grootliks vernou en het behandeling nodig gehad. Destyds het sy in die verstaanbare oomblikke van vrees en onsekerheid oor die komende operasie berusting gevind in die woorde van Fil 1:23: "Want ek word van weerskante gedring: ek het 'n verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar om in die vlees (by julle) te bly is nodiger om julle ontwil."

Interessant genoeg, is die operasie destyds 'n dag voor die tyd gekanselleer weens 'n lewensbedreigende allergie vir jodium en sou sy sonder enige hartvatomleidings vir nog 25 jaar met ons bly.

Inderdaad was sy genade vir haar genoeg.

Vyf jaar gelede is ons almal wat haar so nodig gehad het – tot in ons fondamente geskud: 'n reuse kankergewas is by haar gediagnoseer. Maar soos Hiskia – het sy ook vyf genadejare van die Here ontvang.

Toe ons Dinsdag-oggend inderhaas na die Herfsmed Hospitaal is om haar te gaan bystaan– het ons stilweg gehoop en selfs verwag dat sy weer sou sterker word en om ons ontwil by ons sou bly. Maar dié slag het die Here se genade vir haar beteken dat sy voortaan saam met Christus sou wees. Om 10 oor agt Dinsdag-oggend het sy - na 'n kort rukkie van ongemak, onder die geklank van Ps 23, self haar oë gesluit en aanbeweeg.

Mamma het as opgeleide verpleegkundige gereeld terminale siek pasiënte verpleeg tot met hulle dood. Tydens die sterwensoomblikke van een so pasiënt jare gelede, het sy 'n gebed gedoen vir die vrou wat in erge angs en pyn verkeer het. Die vrou het stiller geraak, rustiger begin asemhaal en vreedsaam gesterf. Toe 'n familielid haar agterna bedank en loof vir haar "perfekte tydsberekening" het sy geantwoord dat dit nie haar tydsberekening is nie, maar dié van die Here.

En sy tydsberekening was ook in haar geval perfek. Almal in ons familie is dit eens dat ons vyf jaar gelede gewoon nie gereed sou wees om van haar afskeid te neem nie. Ons doen dit vandag as mense wat oor 'n tydperk van 5 jaar voorberei is om in dankbaarheid te mag afskeid neem.

Die bos-verhale van Dalene Matthee is vir ons almal van besondere waarde. Dit vertel die verhaal van die mense wat geleef en gewerk het as houtkappers en later bosbouers in die Knysna-woud. Dalene Matthee het uitstekend geslaag om die karakter van die bosmense saam te vat. As jy haar boeke lees voel dit byna asof mamma vir ons verhale uit haar eie kinderjare vertel.

Veral Toorbos, wat afspeel in Gouna-omgewing in die 1930's vertel dit baie mooi. Net soos die hoofkarakter in Toorbos het mamma skoolgegaan by die Huishoudskool op Knysna. Haar skoolhoof, Vita de Klerk, het haar aangemoedig om die boswêreld na skool te verlaat en haar in een van die Afrikaanse stede, Bloemfontein, te gaan bekwaam as verpleegkundige. Daar het sy toevallig vir oom Apie Spies met wie tannie Vita de Klerk intussen getroud is, versorg. Tannie Vita en Oom Apie het haar vir 'n ete oorgenooi en daar het sy Oom Apie se jonger broer Willie ontmoet. Mamma is seker die enigste mens wie se skoolhoof uiteindelik haar skoonsuster geword het en sy het enduit die hoogste agting vir Tannie Vita gehad.

Dalene Matthee beskryf die bosmense so. "Anderster mense…geheimsinnig soos die diepste boskloof waar weinig dit waag om 'n voet te sit …wat more met die openhartigheid van kinders hulle diepste vrese uitpraat, 'n laaste stukkie brood of patat met mekaar deel, 'n swakke se byl by hom vat en sy houe vir hom kap, (of) die hoogste krans aan die bergvoet uitklim om 'n heuningnes by te kom vir 'n soetigheidjie".

In haar geval sou dit net nie vir heuning wees nie maar 'n veldblom, soos 'n wilde koningsprotea, heide of selfs 'n arm vol kosmos langs 'n hoofpad op die Hoëveld. Maar die eerste prys na 'n mooi fynbos-blom, was 'n steggie wat sy met groot sorg op die kombuis se vensterbank in 'n glasie water sou versorg totdat fyn worteltjies begin uitstoot en die steggie tekens toon dat dit self kon groei om iewers in haar tuin 'n plekkie te vind.

Daar groei nou nog 'n rank-rosie in haar tuin wat sy gekweek het uit 'n steggie wat ek so paar jaar gelede vir haar moes breek uit die bos voor die murasie van haar grootword-huis in Gouna.

Uiteraard was haar eerste jare in Bloemfontein vir haar 'n groot aanpassing want al die steggies wat met groot sorg na 'n Desember-vakansie uit Knysna saamgebring is het gewoonlik met die eerste strawwe Bloemfontein-ryp doodgeryp. Sy was was nie gewoond aan die barre, droë koue van die Vrystaat nie, want waar sy vandaan kom was alles groen.

Anders as meeste mense wat hunker na-sonskynweer was mamma op haar gelukkigste in koel ligte reënweer – soos in die bos. Dinsdag was juis so koel ligte reëndag, met Pretoria so groen soos dit in jare nog nie in herfstyd was nie.

In Toorbos vertel die skryfster hoe die afkap van 'n reuse Outenikwa-geelhout of Kalander 'n blou gat in die groen bosdak gelaat het wat net nie wou toegroei nie.

Die heengaan van Mamma – laat ook so gat – maar ons treur nie daaroor soos die ongelowiges nie. Sy het ons immers geleer om "die dinge wat agter is te vergeet en ons uit te strek na wat voorlê".

Daarom wil ek graag die geleentheid gebruik om elkeen van u wat hier is te bedank.

Regdeur haar lewe het mamma energie en krag gekry van die mense wat rondom haar was. Ons kon dikwels sien hoe 'n besoek van kinders of kleinkinders weer nuwe lewe in andersins moeë oë gebring het. Daarom waardeer ons dit dat u almal hier is.

Baie dankie vir tannie Bertha Spies en Maria vir die pragtige begeleiding.

Ons dank ook aan Ds Dirk Lourens vir die diens en ook sy besoek by die Herfsmed kliniek Dinsdag-oggend. So ook aan Ds Jan van den Berg en Fried Ferreira wie albei die familie bygestaan het Dinsdagoggend.

Besondere dank ook aan die dokters wat haar behandel het in die laaste tyd – Dr Joggie Jansen en Dr Boegman asook die personeel van die Herfsmed kliniek.

Ons dank ook aan Mario van Rensburg vir besondere professionele en bedagsame diens rondom die begrafnisreëlings.

Aan die sustersvereniging van die Evangelies-Gereformeerde Kerk Rietfontein, baie dankie vir die verversings na die tyd. Mamma het niemand by die huis laat loop sonder 'n koppie tee nie. U word uitgenooi om ook agterna terug te kom na die kerk om hier 'n koppie tee saam te geniet.

Aan ons sussies, Marita en Mariechen wat die blomme rangskik het, dankie dat julle dit kon doen soos Mamma daarvan sou hou.

Marita en Mariechen is albei na mamma vernoem. Marita verjaar die 22ste Mei en Mariechen die 23ste – op haar verjaardag. Sy het hulle altyd "haar presentjies" genoem.

Marita, dankie vir die reuse geskenk wat jy vir mamma teruggegee het deur – ten koste van jouself en jou gesin – soveel tyd aan haar verpleging tuis te spandeer en vir pappa uit te help as hy jou nodig gehad het. Mariechen wat Maandagnag (en verskeie vorige nagte) by haar deurgebring het, baie dankie

Ek sluit graag met 'n gedig wat swaer Johann Jordaan jare terug geskryf het en gister bygewerk het -

In haar jongmeisiedae, in Knysna se woud,

tussen bosreuse: vlier, kwar en ysterhout;

is 'n mens gevorm – 'n vrou soos min ander –

eiesoortig, uniek soos die Knysna kalander.


 


 

In daardie wêreld wat geen mens ontsien nie,

Is spoelgoud ontdek in die Bos se Homtini.

Net so, in 'n wêreld bekend om sy hout,

Is 'n meisie gelouter tot suiwer goud.


 

En later sou al daardie rykdom ontvou

'n moeder, 'n skoonma, 'n ouma, 'n vrou –

so uniek en besonders dat almal verstaan:

Daar's lig en daar's lewe waar Marie Spies gaan.


 

Maar wyl 'n geelhout se blarekroon

ver bo die ander bome uittroon,

staan haar stam in die grond tussen mos en gras

waar die vaalvrot soos kanker vreet aan die bas.


 

En diep in die grond raak sy stadigaan los

van alles wat aards is én bome én bos –

tot die dag dat 'n windjie haar óm kon stoot

en 'n gat in die bosdak onpeilbaar ontbloot ...


 

En ons wat wil swik van die smart en die seer,

vind berusting en troos, want ons weet dat sy weer

– van lyding bevry, soos 'n jongmeisie, tans ligvoets tussen varings, oor kreupelhout dans!

1 comment:

Domesticat said...

Ek het altyd my eie poniesterte gekam. Maar vir een jaar, 1967, elke keer as ek by marita oorgeslaap het, het tannie Marie in die oggend my poniestert gekam. So in die ry af saam met die al die sussies. Ek sal dit altyd onthou.

Carina