Wednesday, 18 July 2007

Absurde denke oor regstelaksie

Ek was gisteraand verstom om oor die nuus te hoor dat Mbeki se "dinkskrum" reken wittes is nou beter daaraan toe danksy regstellende aksie. Volgens die taakgroep is wit mans en vroue die grootste begunstigdes onder regstellende aksie.

Ek dink hierdie een sal ook in die geskiedenis onthou word as een van die absurditeite uit die Mbeki-era. Ander soortgelyke foutballe was Mbeki se standpunte oor Vigs en Zimbabwe.

Die VF Plus en Solidariteit het reeds by verskeie geleenthede kommer uitgespreek oor die betroubaarheid van die syfers soos weerspieël in die verslag van die Gelyke Indiensnemingskommissie - dis nou die verslag wat as basis gebruik word vir die taakgroep se gevolgtrekkings.

Die verslag se vernaamste fokus is die samestelling van die topbestuursvlakke van maatskappye wat in die betrokke jaar gelyke indiensnemingsverslae ingedien het. Dit verteenwoordig nie eers 5% van die totale arbeidsmark nie. Op die laer posvlakke is wit Suid-Afrikaners byna sonder uitsondering onderverteenwoordig.

Dit is juis wit werksoekers op die intreevlakke wat die druk van regstellende aksie die ergste voel. Armoede onder wit Suid-Afrikaners neem ook die vinnigste toe. Volgens sekere berekeninge tel soveel as 400 000 wit gesinne onder die armstes in die land. Afgesien het soveel as 1 miljoen wit Suid-Afrikaners reeds die land verlaat, meestal weens regstellende aksie en misdaad.

Aartsbiskop Desmond Tutu het die naweek tydens ‘n byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke kritiek uitgespreek op die feit dat regstellende aksie mense uit die land uit dryf.

No comments: