Wednesday, 11 July 2007

Naamsveranderings – waaroor die ophef?

Protes nie oor name alleen nie, maar oor wyse waarop regeer word

Naamsveranderinge is sedert 1994 één saak waaroor lede van die publiek uit die hoofsaaklik wit en Afrikaanssprekende gemeenskap in Suid-Afrika hulle apatie oor politieke sake opsy kon skuif.
Groot straat-optogte het al oor die beoogde verandering van Pretoria en Potchefstroom se name plaasgevind en die saak bly omstrede.

Die gemeenskap van Louis Trichardt het ook onlangs suksesvol Appelhof toe gegaan en dit reggekry om die verandering van hulle dorp se naam na Makhado te laat omkeer.

Enkele maande gelede het die hoofsaaklik Zoeloe-etniese party, die IVP ook die aandag getrek met ‘n reuse protesoptog in Durban waaraan tienduisende mense deelgeneem het. Hier het dit ook gegaan oor beoogde naamsveranderings. In die geval was dit die ANC beheerde Metroraad se planne om die naam van die Mangusuthu Hoofweg – wat na die IVP-leier en voormalige Hoofminister van Kwa-Zulu, Dr Mangusuthu Buthelezi vernoem is, te hernoem na ‘n ANC struggle-held.

Naamsveranderinge is egter niks nuuts nie. Voorbeelde is regdeur die geskiedenis te vind en dateer selfs uit die Bybelse tyd.

Bybelse voorbeelde

God het dikwels die name van mense verander om daardeur ‘n besondere verbintenis te bevestig. Abram het Abraham geword, Sarai het Sara geword, Jakob Israel en in die Nuwe Testament Saulus Paulus, om maar net ‘n paar voorbeelde te noem.

Naamsveranderinge van plekke is ook ‘n verskynsel wat al sedert Bybelse tye te vinde was veral wanneer gedenkwaardige gebeure of wonders plaasvind. Abraham hernoem byvoorbeeld die berg Moria na die Hebreeuse woord wat beteken “die Here sal voorsien” - nadat God uitkoms gee en Isak ‘n offerdood spaar. Uiteraard was die samelewing van die vroeë Bybelse tyd anders as vandag. ‘n Naamsverandering van ‘n plek is nêrens geproklameer of andersins wettig of amptelik gemaak nie. Dit was ‘n samelewing waarin die mondelinge tradisie geleef het. Name is in familie- en stamverband van geslag tot geslag oorgedra daarom was dit sekerlik moontlik dat vir een stam, een naam geld en vir ‘n ander stam weer ‘n ander naam.

Dis waarskynlik die rede waarom die verskynsel van verskillende name vir dieselfde plek volop voorkom. Jerusalem staan byvoorbeeld in Bybelse en na-Bybelse literatuur onder soveel as 70 name bekend. ‘n Paar voorbeelde van hierdie name was Salem (Gen 14:18), Sion (op 154 plekke in die Bybel gebruik, veral in die Psalms), Moria (Gen 22:2), Jebus (Rigters 19:10) en Ariël (Jes 29:1). Uiteraard was daar nie ‘n noodwendige chronologie waarin die name gebruik is nie. Die name is eerder afwisselend van geval tot geval gebruik. Hier was dus nie sprake formele veranderings van name nie maar eerder ‘n afwisselende gebruik van verskillende name vir dieselfde plek.

Dan het Jerusalem ook nog verskillende name gekry by elke bewindhebber wat die stad deur die geskiedenis beheer het. Die Romeine het die stad Aelia Capitolina genoem en die Moslem bewindhebbers van die Middeleeue en daarná: Al-Quds en Bayt al-Muqaddas. Bewindhebbers het natuurlik anders as meeste gewone mense geskrewe rekords gehou. Stede en streke moes immers geadministreer word en die name wat in die amptelike rekords sou voorkom dit sou natuurlik afhang van wie die bewindhebber op die bepaalde tydstip was.

Algemene geskiedenis voorbeelde

Namate modernisering in die wêreldgeskiedenis plaasgevind het, het die verskynsel van formele en amptelike name vir plekke begin posvat. Die neiging tot standaardisasie van elke aspek van die samelewing het ook begin deurgesyfer. Standaardisasie laat natuurlik nie werklik ruimte vir verskillende name vir dieselfde plek nie. Toenemend het die name wat ‘n bewindhebber aan plekke gee, dus die amptelike name van daardie plekke geword.

Die wêreldstad New York het aanvanklik na sy stigting deur Hollandse owerhede in 1624 as Nieu Amsterdam bekend gestaan. Na die Engelse besetting word die stad herdoop na New York. Daarna is die stad se naam weer na Nieu Oranje verander tydens ‘n kortstondige Nederlandse besetting vanaf Augustus 1673 maar na die finale oordrag van die Nederlandse gebiede in Noord Amerika na Engeland in November 1674 het die stad se naam finaal na New York terug verander.

Ook die voormalige Russiese hoofstad, St Petersburg (vernoem na die Apostel Petrus) het sedert sy stigting in 1703 verskeie naamsveranderings ondergaan. Vanaf 1914 tot 1924 staan die stad bekend as Petrograd en vanaf 1924 tot 1991 as Leningrad en sedertdien weer as St Petersburg. Weereens het die naamsveranderings verband gehou met politieke veranderinge en verskuiwings van die magsbalans in die land.

Sedert die 1950’s, het die verandering van plekname en afbreek van koloniale simbole in Afrika na dekolonisasie algemeen voorgekom. Die Goudkus het Ghana geword, Noord-Rhodesië het Zambië geword, Suidwes Afrika het Namibië geword, Kongo het Zaïre geword – net om ‘n paar jaar gelede weer tot die Demokratiese Republiek van Kongo herdoop te word. Die verband tussen die verandering in bewind en die verandering van name in die geval was dus voor-die-hand liggend.

Standaardisasie van plekname

Te midde van die proses van internasionalisering en globalisering, word die standaardisasie van plekname nog internasionaal gesien as ‘n noodsaaklike voorvereiste vir ontwikkeling groei en kommunikasie. Die Verenigde Nasies het selfs vir die doel ‘n spesiale werkgroep, bekend as die United Nations Group of Experts on Geographical Names (UNGEGN) op die been gebring. Die werkgroep bestempel dit byvoorbeeld in sy reklamemateriaal as ‘n ernstige potensiële probleem indien daar duplikasie van name in ramp geteisterde gebiede bestaan omdat dit verwarring kan skep omtrent lokaliteite war hulp verleen moet word. Die vraag is natuurlik of hierdie potensiële probleem vandag nog bestaan gegewe die gevorderde inligtings en GPS tegnologie wat vandag net so beskikbaar en toeganklik as ‘n konvensionele gedrukte atlas geword het, maar dit is ‘n aparte debat.

Die feit is dat Suid-Afrika hom daartoe verbind het om die proses van standaardisasie ook plaaslik in te faseer, is van meer belang wanneer die naamdebat in oënskou geneem word. Dit beteken dat die Suid Afrikaanse regering hom daartoe verbind het om ‘n proses aan die gang te sit om uiteindelik vir elke dorp of stad, slegs één amptelike naam te hê. In praktyk beteken dit dat daar nie ruimte gaan wees vir die amptelike gebruik van Tshwane of Pretoria of dan iPitoli (die Zoeloenaam vir Pretoria) wanneer van die hoofstad gepraat word nie, maar dat net een van die name uiteindelik amptelike status sal geniet. Dit is dan ook in hierdie proses van keuse-uitoefening waarbinne geweldige emosies opgewek word en waaroor in die artikel vêrder besin word.

Waarom die emosie?

Indien daar dan aanvaar moet word dat die proses van standaardisasie moet plaasvind (wat natuurlik debatteerbaar is) is die vraag waarom minderheidsgemeenskappe so emosioneel raak oor die ontwikkelinge en of dit werklik geregverdig is. Christene mag dalk vra of ‘n stryd oor die behoud van name (wat meestal mense vernoem) werklik onder Christene tuishoort. Is dit nie maar ‘n vorm van mense-verering nie?

Wanneer die vraag in isolasie beskou word sal die antwoord waarskynlik “ja” wees. Die stryd om behoud van name kan nooit deur Christene gevoer word asof die naam alles is en ten alle koste eerbiedig of beskerm moet word nie. Wat egter veel belangriker is, is die konteks waarbinne naamsveranderinge plaasvind en of dit spreek van regering in belang van al die regering se onderdane.

Hierbo is uitgewys hoe naamsveranderings van plekke gewoonlik gepaard gegaan het met politieke magsverskuiwings. Naamsveranderinge is in baie gevalle byna ‘n noodwendige gevolg van groot politieke omwentelinge.

Suid-Afrika was egter anders – so het baie geglo. Die politieke skikking van 1994 was algemeen aanvaar om nie ‘n skikking van wenners en verloorders, van veroweraars en verowerdes te wees nie. In die opsig verskil Suid-Afrika dus van al Afrika se voormalige kolonies. Daar het koloniale besetters die besetting beëindig en voormalige administrateurs en goewerneurs het hulle weer in hulle moederlande gaan vestig. In Suid-Afrika het die groot meerderheid van die wit minderheid gebly. Hulle het gebly met die hoop om steeds in die land aanvaar te word en steeds ‘n rol as Suid-Afrikaners te speel.

Hierdie denkbeeld, wat waarskynlik by meeste wit Suid-Afrikaners en minderhede geleef het is egter tot in sy fondamente geskud met die publikasie van ‘n onderhoud met die Minister van Kuns en Kultuur, Dr Pallo Jordan vroeër vanjaar in die Sondagblad Rapport. In antwoord op ‘n vraag wat hy maak met die regte van mense wat graag die name van plekke soos Pretoria en Potchefstroom behoue wil laat bly, het hy soos volg gereageer: “hoekom, reken Pretorius se afstammelinge dat húl regte nou saak maak? …Met perde en wapens en waens kon Pretorius en die Voortrekkers teenstanders vermoor, hul beeste vat, van hul kinders bediendes maak, en sê: ek gaan die plek verander na my beeld. Dáárdie mense se regte het nie vir Pretorius saak gemaak nie.” Hierdie woorde van die minister het by mense die realiteit laat deurdring dat die politieke prosesse wat aan die gang gesit is nie ‘n proses van regering, regstelling en standardisering is nie maar van wraak en vergelding.

Die reaksie teen die beoogde naamsveranderings is dus veel eerder ‘n reaksie teen die marginalisering, misdaad en nuwe ongelykhede wat eie aan Suid-Afrika geword het, as ‘n stryd om die verering van mense of die behoud van ‘n naam.

No comments: