Saturday, 14 July 2007

Regstel-aksie is dood, sê Erwin

Berig deur Pieter Malan uit Beeld 12 Julie 2007

Londen. – Mnr. Alec Erwin, minister van openbare ondernemings, sê regstellende aksie in Suid-Afrika is in vele opsigte dood.
Hy het hier gesê dit word in die praktyk nie meer toegepas nie omdat daar so ’n vaardigheidstekort in die land is.
Erwin het gister, tydens ’n vraag-en-antwoordsessie met lede van die Suid-Afrikaanse Besigheidsklub in Londen, die land se regstellende aksie-beleid verdedig en gesê Suid-Afrika sou ’n groter tekort na vaardighede gehad het as dit nie daarvoor was nie. “Die hoeveelheid vaardighede wat Suid-Afrika nodig het, kon onmoontlik deur wit Suid-Afrikaners alleen verskaf word.”
Op ’n vraag hoe belangrik die beleid van regstellende aksie steeds vir die ANC-regering is, het Erwin gesê regstellende aksie is in baie opsigte dood “nie wat ’n beleid betref nie, maar as ’n vereiste” (tydens werksaansoeke). Hy het mediese aanstellings in die Wes-Kaap as ’n voorbeeld genoem en gesê die meeste dokters wat in dié provinsie aangestel word, is wit.
Intussen het dit aan die lig gekom dat mnr. Tony Blair, die voormalige Britse premier, sy ongemaklikheid met die ANC-regering se regstellende aksie program in 1999 aan mnr. Thabo Mbeki oorgedra het toe Mbeki nog adjunkpresident was.
Alastair Campbell, Blair se voormalige woordvoerder en beeldpoetser, skryf in sy dagboek wat hierdie week in Londen gepubliseer is oor ’n private ontmoeting in Januarie 1999 tussen Blair en Mbeki.
Campbell skryf dat Blair daartydens aan Mbeki gesê het dat die ANC regering “te geheg is aan die beleid van regstellende aksie”.
Volgens Campbell wou Blair die versekering van Mbeki hê dat “swart Suid-Afrikaners nie ryk sal word deur wit Suid-Afrikaners arm te maak nie”.
Erwin het gesê Suid-Afrika het gedurende die laaste paar jaar alles in sy vermoë gedoen om veral Suid-Afrikaanse ingenieurs uit die buiteland terug te lok.
“Ons het waarskynlik die meeste van die vaardigheid wat ons kan, teruggebring. Daar mag miskien nog meer daar buite wees, maar ons soek hulle.”
Hy sê nadat redelik baie ingenieurs die afgelope paar jaar teruggekeer het na Suid-Afrika, raak dit nou al hoe moeiliker om mense terug te lok vanweë die reuse-salarisse wat hulle in die buiteland verdien.
Hy sê een van die dinge wat kommer wek is dat net die helfte van ingenieurs wat in Suid-Afrika opgelei word, uiteindelik as ingenieurs werk. Die ander helfte gaan werk in ander industrieë en beroepe en daar is pogings om saam met ingenieursfirmas te werk om seker te maak dat alle ingenieurstudente in dié veld bly werk.

No comments: